

| Uit Melkbos | |||
Entry for October 19, 2008 ![]() More uit Melkbos BYL IN ONS BOS My eerste huisvoorsitter in Kollege-tehuis in 1958 was Leon Visser. My tweede Faan van Huyssteen. In 1960 het Heystek van Rooyen, boerseun van Roedtan, die leisels gevat. Heystek is verlede week in Pretoria op 72 aan sy hart oorlede - die Byl is weer in ons bos! Leon Visser was een van die Kollegemanne by die roudiens, met sy Kollegedas aan. Sy teenwoordigheid (met die Kollegedas) getuig iets van die kameraderie van ons geslag Kollegemanne. Al loop ons paaie soms ver uiteen, vergeet ons mekaar nie. Van Heystek onthou ek veral een enorme irritasie vir eerstejaars - hulle moes in die winter in ou Kollege op die kampus in die koue ablusieblok waardeur die windjie bytend kon swiep, die houtbank van die toilet vir "meneer van Rooyen" gaan warm sit. Op die foto van ses van 1960 se HK-lede sit Heystek links voor, HvD staan regs agter. Langs Heystek sit Cas Jacobs wat ook by die roudiens was. Langs Cas sit Jan Conradie. Links agter staan Leon Engela.. In die middel is Coen Dreyer. Nie op die foto nie is o.a. Vos Grey wat Heystek in die middel van die jaar opgevolg het toe Heystek en Annatjie getroud is. Tot siens, Heystek. Nog 'n herinnering dat die tyd aanstap, kom in die vorm van 'n boodskap uit Bloemfontein. Die sprankelende tamboernooientjieleidster van die 60's, Sandra (Toeks) Conradie, is in die hospitaal. 'n Noodoperasie is Vrydagnag uitgevoer na 'n breinbloeding. Toeks is nou mev. Neuhoff. Sy en haar man, Neels, 'n Sonopper en lekker rugbyspeler, was al burgemeesterspaar van daardie stad. Sterkte, Neels en Toeks. (HvD)
2008-10-19 08:13:25 GMT
|
|||