HvD se blog
Uit Melkbos
Entry for May 27, 2009
photo

More uit Melkbos





"ONS EIE KEUSE"





Ligte klassieke musiek het in my lewe gekom met die periodieke Plate-aande Saterdagaande in die skoolsaal van Potch-Volkies.  Dit was nie die gewildste aktiwiteit nie, want die skoolsaal se ligte het dwarsdeur bly brand, en selfs ‘n handjies-vashouery was uit.  Van die snitte wat oor en oor gespeel is, is egter tot vandag toe gunstelinge.


 


Eers op Tukkies in die jare vyftig het ek met “U eie keuse” op die Afrikaanse Radiodiens (nou RSG) kennis gemaak, al was die versoekprogram al sedert 1945 (toe ek vier jaar oud was) op die lug. Op alleen-aande was die mooi musiek ‘n troos.


 


In 1974 toe ek en Tokkie van Bloemfontein vir ses jaar Johannesburg toe is, het ek Kosie Jooste se huis in Randburg sterk oorweeg.  Hy laat val toe hy het die eerste “U eie keuse” op 20 Oktober 1945 uitgesaai.  Die man het in my estimasie gestyg, maar sy huis se pype het darem te erg gerammel as jy ‘n kraan oopdraai!   


 


 (Na Jooste, het verskeie aanbieders gevolg: Pieter Naudé, Jan Spies, Vincent Hesse, Hennie Pietersen, André Liebenberg, Frikkie Oosthuizen, Henk Bierman, Retief Uys, Anton Prinsloo, Robert Young.  Deesdae is dit natuurlik Wouter de Wet, wat ook tenniskommentator is. Young is die vader van die gewilde  “U eie keuse”-CD’s. Retief Uys was ‘n vriend uit die Bloemfonteindae. Malaria het sy lewe geëis).


 


 


In April 1988 was Pa en Ma Malan vir oulaas by ons op Buffelsbaai waar ons vroeër altyd saam vakansie gehou het. Wat ek nie sal vergeet nie, is die laaste siens die aand op George se lughawe: hy, ’n uitgeteerde bondeltjie mens in ’n rolstoel op ’n windverwaaide laaiblad, wagtend om aan boord geplaas te word.


 


Die volgende ontmoeting was in die kankersaal van Pretoria se H.F. Verwoerd-hospitaal. Pa Malan was in ’n beswyming. Ek het die nag by hom gewaak en is in daardie eensame ure deur ’n diepe droefheid beetgepak. Ons het ’n lang pad saam afgelê.


 


Vroeër die aand het ’n pasiënt in die verste hoek sy radio op "U eie keuse" ingeskakel. Robert Young was die aanbieder.  Dié verheffende musiek te midde van lyding was ontroerend. Ek kon nooit weer na daardie program luister sonder om daardie aand in die kankersaal in herinnering te roep nie. Vier dae later is Pa dood.


 


Van almal wat daardie aand in Saal 21 deur Young en sy musiek betower is (ook die bekende Oom Fasie van die TV-program “Nommer Asseblief”), is dit waarskynlik nog net ek en die verpleegsters wat in en uit is, wat in die lewe is – ’n ongemaklike gedagte.


 


Ewenwel, op 'n dag het ek en Tokkie gaan sit en “ons eie keuse” saamgestel. Hier volg ons lysie “hartsmusiek”,  nie in gewildheidsvolgorde nie:  


 


Nonnekoor & Laura se aria uit Casanova (J. Strauss II)–dir. sir Neville Marinner


 .   Mozart se klavierkonsert Nr. 21 in C Majeur (‘Elvira Madigan’) K. 467 Adante


     Amazing Grace—Diana Ross


     Gebed van ‘n jong meisie—Joseph Cooper


     Fa La Nana Bambin—Anna Maria Alberghetti


     8de Variasie op ‘n rapsodie van Paganini op ‘n tema van Rachmaninoff


     Largo uit Nuwe Wêreldsimfonie (Dvorak)—Stuart Burrows


     Bella Figlia dell’amore-kwartet uit Rigoletto (Verdi)


     Tsjaikofski se Klavierkonsert Nr. 1 in B Mol Mineur


     Non, Je Ne Regrette Rien—Edith Piaf 


     O Holy Night—George Beverly Shea 


     Hoe Groot Is U (S.K. Hine) —Rudi Neitz


     Marieke—Jacques Brel


     Seënbede—Anneli van Rooyen         


     Barcarolle uit Verhale van Hoffman (Offenbach)—op harp


     Jantjie—Tygerberg-kinderkoor  


     Neuriekoor uit Madama Butterfly (Puccini) 


     Wals op. 39 nr. 15 van Brahms—Wessel van Wyk 


     Va pensiero (Slawekoor) uit Nabucco (Verdi) 


     Stille Nacht—Bielefelder Kinderchor




Die omvang van die lys sal Wouter de Wet seker sy hande in die lug laat gooi. Dis stof vir twee programme.  Toemaar, Wouter, dis in elk geval nie vir die radio bedoel nie – sommer net vir ons eie plesier.


Van die historiese, sentimentele en ander redes waarom bepaalde snitte op ons lysie pryk, vertel ek graag  in ‘n volgende aflewering  (HvD)


2009-05-27 07:33:33 GMT
Add to My Yahoo! RSS